Monument vir ‘geld se mag’ – Woede oor Bronberg huis

Artikel deur Sylvia van Zyl (Tshwane Beeld, Woensdag 24 September 2014)

Tower house in construction

‘n Huis wat vyf verdiepings hoog staan en op die horisonlyn van Bronberg, net langs die Faerie Glen-natuurreservaat, gebou word, laat inwoners sowel as die Vriende van die Faerie Glen-natuur­reservaat rooi sien.

Volgens Jaco Engelbrecht van die Vriende van die Faerie Glen-natuurreservaat is die groot vraag hoe die Tshwane-metro die bouplanne kon goedkeur. “Verskeie ekoloë het aan ons gesê dié spesifieke gebied word beskerm deur die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling se riglyne om horisonlyne ongeskonde te hou. “Die departement doen nou ’n lang en tegniese ondersoek om vas te stel hoekom daar nie aan dié beleid gehoor gegee is nie,” sê Engelbrecht.

Volgens Anton Jansen, ’n onafhanklike erfeniskonsultant en lid van die Tshwane-geboue-erfenisvereniging, bederf dié huis die horisonlyn van die koppie en dit maak inbreuk op die natuurgebied. “Dit is so goed ons wil nou ewe skielik perde gaan aanhou op Kerkplein,” sê Jansen. “Dit maak mos inbreuk op die stedelike gebied. Dié enorme huis is net magsvertoon,” sê hy.

“Ons sou glad nie ’n probleem gehad het as die huis net twee of drie verdiepings hoog was nie, maar hoekom moet dit vyf verdiepings wees?” Volgens Jansen was daar ook toentertyd ’n wet wat bepaal het dat geen geboue teen randjies opgerig mag word nie.
“Toe sir Herbert Baker destyds die Uniegebou ontwerp het, het hy seker gemaak dat selfs nie eens die twee torings van die Uniegebou bo die horisonlyn van Meintjieskop uitsteek nie. Die regering wou hê die gebou en sy torings moes hoër wees, maar Herbert het voet by stuk gehou en geweier om dit te doen omdat dit die horisonlyn sou bederf,” sê Jansen.

Hy meen dié wet het deur die jare verval omdat geldmag net al hoe belangriker geword het en dat die natuur in sulke gevalle maar tweede viool moet speel. Volgens Jansen word die huis wel buite die grense van die Faerie Glen-natuurreservaat gebou, maar hy sê dit beteken nie die ­eienaar kan eenvoudig net doen wat hy wil nie. “Dit het steeds ’n enorme impak op die natuur,” sê hy.

Engelbrecht sê: “As dié huis wel ’n permanente struktuur op die horisonlyn word, sal dit ’n ewige herinnering wees van die totale verontagsaming van omgewingswette.”

Die eienaar van die huis kon teen druktyd nie opgespoor word nie.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

1 Response to Monument vir ‘geld se mag’ – Woede oor Bronberg huis

  1. Jo-Mey Dreyer says:

    Die eienaar van die oogseer behoort aangese te word om ten minste twee verdiepings daarvan af te breek. Dis al wat ander voornemende eienaars sal verhoed om dieselfde te doen. Dit help nie om te redeneer dat die gebou nou maar aanvaar moet word nie net “omdat dit nou klaar daar staan!”. Oortredings soos hierdie behoort die eienaars duur te staan te kom. Duidelik het die eienaar “delusions of grandeur”, en meer geld as verstand.. Bou inspekteurs behoort ook kundiger te wees wat betref die owerheidsbeleid, en moes lankal ‘n stop daaraan gesit het. Ek sou wat gee om te weet wat het alles agter die skerms aangegaan!.
    .

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s